VARKRIBBETJIE OOR KOLE

2kg varkkortribbetjies  in porsies gesaag
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

MARINADE:
2 uie, gekap
3 knoffelhuisies, fyngedruk
500ml rooibostee
250ml kookolie
250ml tamatiesous
250ml blatjang
75ml Worcestersous
125ml wynasyn of asyn
10ml aangemaakte mosterd

Meng die marinadebestanddele in ‘n kastrol. Verhit tot kookpunt en prut ‘n paar minute lank. Laat afkoel. Giet die koue marinade oor die ribbetjies en marineer oornag in die yskas.
Verwyder die ribbetjie uit die marinade en druk droog met kombuispapier. Braai ribbetjie 20-25 minute lank oor matige kole. Geur met sout en peper.

DUIWELS LEKKER RIB

Varkribbetjies
1 eetlepel marmite
5 eetlepels suiker
1 eetlepel mielieblom
2 eetlepels asyn
2 teelepels gemaalde gemmer
1 huisie gekapte knoffel

Kook ribbetjies stadig in ‘n bietjie water totdat die bene uitgetrek kan word. Laat die vleis afkoel sodat jy dit kan
hanteer en sny dan in vierkante. Meng res van die bestanddele en doop vleisvierkante daarin. Rooster oor
warm kole vir 8-10 minute. Bestryk weer met marinade en draai vleis om. Rooster vir die dieselfde tydperk en
bedien wanneer gaar. Dit kan warm of koud bedien word. Die oorblywende sous word ook bedien. Stukkies
vleis kan daarin gedoop word soos ‘n doopsous.

MOSTERD EN BRUIN SUIKER VARKTJOPS

Vark Tjops
Bruin suiker
Mosterd Poeier
sout en peper

Vryf mosterd poeier oor die tjops,
Sprinkel bruinsuiker oor.
Braai tjops oor matige kole.

BRAAITJOPS

1kg skaapribtjops
25ml kookolie
2 groot uie, in skywe gesny
25ml bruinsuiker
3 lourierblare
12.5ml kerriepoeier
60ml asyn
2.5ml gerasperde lemoenskil
37.5ml fyn appelkooskonfyt
190ml water
10ml sout
8 peperkorrels

Verhit die olie in die pan. Soteer die ui daarin. Voeg alles behalwe die vleis by en kook 15 minute lank. Laat afkoel. Pak die vleis in ‘n bak en gooi die afgekoelde sous oor die vleis. Marineer oornag. Rooster die vleis oor die kole. Kook die marinadesous nog 10 minute lank en gooi oor die vleis.

STAANRIB

Een heel lekker vet skaaprib
Growwe Sout en peper
Suurlemoensap

Sny blokkies in die vleiskant van die rib. Besprinkel met growwe sout en peper aan weerskante. Sodra jy jou hout vuur aangesteek het, plaas rib in toeknyp rooster ongeveer 200 mm in regop posisie langs die vuur. Sit nou terug en kuier heerlik, Draai kort-kort om, maar
sorg dat beenkant meer hitte kry. Bedrup met suurlemoen sap. Stadig gaar word vir so 3 ure. Hoe langer hoe beter. Eet dat die spoeg spat!

LAMSTJOPS MET KRUIE KNOFFELBOTTERSOUS

KRUIEBOTTERSOUS:
250g sagte botter
2 knoffelhuisies (gekneus)
15ml gemengde droë kruie
30ml suurlemoensap
Kap botter, knoffel, kruie saam fyn en gooi sap by. Meng goed. Skep bottermengsel in bakkie en hou in yskas tot nodig.

VLEIS:
12 lamslendetjops
45ml olyf olie
20ml suurlemoensap
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
Meng olyfolie, sap, sout en peper in bakkie en verf mengsel oor die tjops
Rooster tjops op kole na gelang van smaak van gaarheid. Bedien saam met Bottermengsel

BIEFSTUK IN BIERMARINADE

6 biefstukke (kruisskyf of T-been)
80ml bruinsuiker
1 suurlemoen(skil gerasper, sap uitgedruk
340ml bier
1ui (fyn gekap)
5ml mosterdpoeier
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Plaas biefstukke in enkellaag in marineringsbak. Verhit bruinsuiker, bier, ui en mosterdpoeier, suurlemoenskil en sap, saam tot kookpunt. Verminder hitte en laat vir sowat 10 minute, onbedek, prut. Laat heeltemal afkoel.
Giet marinade bo-oor biefstukke en marineer vir sowat 2 uur . Braai na smaak.

GEROOSTERDE KUIKENS

2 kuikens, deur bors en ruggraat gehalveer

SOUS:
30ml tamatiesous
30ml vrugte blatjang
20ml aangemaakte mosterd
10ml worcestersous
5ml sojasous

Sny 2-3 diagonale kepe in die borsgedeelte van die kuikens. Meng sousbestanddele saam en verf oor die hoenderhelftes. Plaas op die toeklap rooster, bedruip met sous en draai gereeld om. Rooster vir sowat 25-30 minute terwyl gereeld met sous bedruip word.